Login Here

ArtSpoken & Reviews  

Kersfees Skouspel terug by Carnival City

Lefra Productions
11/29/2013 09:30:48


Artslink.co.za News
Elke jaar, so 'n paar dae voor Kersfees, bied Lefra Produksies sy jaarlikse Kersfees Skouspel in Carnival City se Big Top Arena aan.

Die produksie word aangebied in die ware Boney M-styl van Kersproduksies en is elke jaar 'n ongelooflike skouspel van talent en natuurlik word die wonderlike boodskap van Kersfees in woord, sang en musiek aangebied! Vanjaar vind die Kersfees Skouspel op Saterdag, 14 Desember om 20:00 plaas. Jaconell Mouton is die Musikale Regisseur en Frans Swart is die regisseur. Die Kersfees Skouspel spog vanjaar met die room van Suid-Afrika se sangtalent, onder andere Alwyn Oberholster, Arina de Witt, Henrico Coetzer, Heuning, Jannie Moolman, Jay du Plessis, Kobus Muller, Liza Brönner en Rina Hugo. Die Kersfees Skouspel spog natuurlik elke jaar ook met 'n lewendige orkes.

Besprekings vir die Kersfees Skouspel het pas geopen by Computicket. Skakel hulle by 0861 915 8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com. Groepe van meer as 10 persone kry soos altyd ‘n lekker afslag deur vir Monica Booysen te skakel by 011 815 3000 of ‘n e-pos te stuur aan admin@lefa.com  Besoek ook www.lefra.com vir meer inligting.

JACONELL MOUTON is een van Suid-Afrika se top klavier- en klawerbordspelers, en is die musikale regisseur van vanjaar se KERSFEES SKOUSPEL. Sy het in die Kaap grootgeword en in Pretoria studeer, wat steeds haar basis is vanwaar sy as vryskutmusikant saam met van ons land se top kunstenaars werk. Haar werk sluit lewendige optredes, albums, DVD's en TV-werk in. Jaconell is veral bekend as deel van die musiekfabriek op televisie se Noot vir Noot. Sy het ook reeds die verhoog gedeel met internasionale kunstenaars soos Stef Bos, Dana Winner, Demis Roussos en Herman van Veen. Volgens Jaconell is sy baie opgewonde oor die projek. “Kersfees Skouspel 2013 gaan 'n perfekte bydrae tot die Kersseisoen wees met 'n wye verskeidenheid van musikale vermaak deur nege ongelooflike kunstenaars, wat 'n nuwe kontemporêre Country-groep insluit wat jy definitief nie wil mis nie!”, sê sy. “Ek kan ook noem dat ons ‘n lewendige orkes het met briljante musikante wat die kunstenaars ondersteun. Mauritz Lotz en Luke van der Merwe is op die kitare, Denny Lalouette op baskitaar, Vinnie Henrico is op die dromme en ek self is op die klawerbord.”

Die Oos-Rand se eie ALWYN OBERHOLSTER het so pas sy eerste CD, Maak of Breek, vrygestel. Die CD bevat sy eie liedjies en glo Alwyn dat hierdie die geleentheid is om homself aan die Suid-Afrikaanse publiek bekend te stel. Alwyn tree reeds regoor Suid-Afrika op, en is gehore gaande oor sy musiek.

Alhoewel ARINA DE WITT reeds op vyfjarige ouderdom begin sing het, was haar vriend Jan Spies, die gevierde storieverteller en stigtersredakteur van die Namibiese koerant, Die Republikein, eintlik die een wat haar "wakker geskud het" om met 'n sangloopbaan te begin. Arina het Jan Spies leer ken toe hulle saam vir die Die Republikein gewerk het. Spies het die lirieke vir De Witt se eerste groot treffer, Rietjiesfluit, geskryf en ook vier liedjies op haar eerste album geskryf. "Ek is bly dat hy daardie kant van my kon wakker skud," sê Arina. Haar nuutste album, Timeless, is vroeër vanjaar vrygestel en is volgens Arina ‘n keurspel van tydlose treffers oor die jare heen. Sy is een van Suid-Afrika se talentvolste en veelsydigste kunstenaars, en plaas God in totale beheer van haar lewe.

HENRICO COETZER is ‘n jong sangtalent in Suid-Afrika, wat reeds groot hoogtes bereik het. Op ‘n baie jong 16 jarige ouderdom wen hy reeds ‘n kompetisie vir ‘n nuwe komposisie met die liedjie The Calling, wat dan ook die titelsnit op sy eerste CD is. In 2011 matrikuleer Henrico aan die Hoërskool Waterkloof en doen daarna ‘n diensjaar vir Jesus as deel van ‘n uitvoerende kunste bediening. Hy toer die hele land vol daarmee en ook in van die buurstate. Henrico se CD word in 2012 op die speellys geplaas van Radio Rippel en een van die snitte Hallelujah spandeer 18 weke op die top 20, waarvan drie daarvan as nommer een is. Hallelujah word ook genomineer as liedjie van die jaar. ‘n Prestasie waarop hy baie trots is!

HEUNING is die heel eerste kontemporêre Afrikaanse Country-duo in die wêreld. Jeanette Rootman en Henk Dercksen is gekies uit ©° oudisiegroep van meer as 300 sangers wat hul demo's vir David Gresham Platemaatskappy gestuur het. Daar is hard gewerk om die regte liedjies op te neem wat uit verskeie skrywers se penne gekom het; Jeanette het selfs van die liedjies op die album in Afrikaans vertaal. Jeanette Van Staden is geen vreemdeling in die musiekbedryf nie. Sy het reeds op die ouderdom van 12 saam met Boet Pretorius by Decibel Records opgeneem. Henk Dercksen is pas klaar met skool en net 19 jaar oud. Hy het onlangs uit Naboomspruit getrek om voltyds aan die Heuning-projek te werk. Sy liefde vir musiek kom al 'n lang pad, maar sy sangloopbaan moes eers op die kantlyn staan terwyl Henk op hoërskool sy volle aandag aan rugby bestee het. Heuning se debuut album is in Julie 2012 uitgereik en aanhangers kan gerus op die uitkyk wees vir hulle Kersalbum getiteld Soet Kersfees, wat hierdie feesseisoen op die rakke sal wees!

JANNIE MOOLMAN is beslis een van Suid-Afrika se voorste uitvoertenore. Sy operaloopbaan sluit in vertolkings van Händel se Messiah, Schubert se Miss in G, Beethoven se Negende Simfonie, Missa Solemnis, Mozart se Requiem en Coronation Messe, Rossini se Stabat Mater en Messe Solennelle en Verdi se Requiem. In 2011 stel hy sy vierde CD Die Son Sal Weer Skyn vry. Hierdie Album is ‘n Afrikaanse ballade-album met oorspronlike liedjies uit die pen van Johan Vorster en Ewald Coleske met treffers soos Die son sal weer skyn, In my droom, Jy vat my hoër en Net vir jou. Jannie Moolman tree ook gereeld op saam met verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Karen Zoid, The Bala Brothers, Brandon October, Ladysmith Black Mambazo, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Laurika Rauch en verkeie internasionale operasterre. Hy was ook die aanbieder van die Afrikaans televisie musiek program Kom ons Karaoke.

Platinumstatus is waar JAY sy beste werk doen. Dit was ’n merkwaardige 17-jaar lange reis wat hom gebring het tot waar hy vandag tuis is. Ná 12 van hierdie fenominale jare as een deel van die groter geheel van Eden, het hy gedurende die afgelope drie jaar sonder begeleiding gevlieg en ook een van die mees suksesvolle duet-albums wat hierdie land in dekades gehoor het, vrygestel. “Die treffer wat ek aan Lianie May se sy geniet het met die vrystelling van Bonnie en Clyde, het beteken dat enigiets anders, insluitend #DisHoeOnsRol, op langverlof geplaas is,” verduidelik hy met ’n verskonende glimlag. Sedert hy in 2010 op sy eie paadjie vertrek het, eggo sy rekordsukses, ná Eden, in elke projek wat hy aanpak. “Ek belê ten volle in elke aspek van dit wat ek doen, en #DisHoeOnsRol is vir my net so ’n groot belegging as wat 2010 se Solo was. “Ek weet waar my sterk punte lê,” verduidelik hy. “Die mense saam met wie ek werk voeg almal hulle genialiteit by my visie. Saam maak ons GROOT dinge gebeur!”

KOBUS MULLER was die wenner in 2007 van Patricia Lewis se gewilde SABC2-realiteitsreeks Supersterre, waar meer as twee miljoen kykers weekliks vir 13 weke vir hom gestem het. Twee van sy CD’s het reeds goue status bereik en sy vierde album, Alles en Meer, is verlede jaar vrygestel en vanjaar genomineer vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning in die kategorie Beste Sokkie-album. ’n Verdere hoogtepunt was toe hy in 2008 saam met die internasionale groep Smokie deur Suid-Afrika getoer het. Waarmee hou hy hom deesdae besig? “Ek het vroeër vanjaar ‘n kontrak aangegaan met Toi-Records van Duitsland en het my eerste internasionale liedjie, Turn up the Radio, in April deur hulle vrygestel”, vertel Kobus.

LIZA BRÖNNER is onlangs as Suid Afrika se nuwe Liefling aangewys tydens ‘n agt weke soektog na die perfekte sangeres om die verhoog te deel met Afrikaans se popprins, Bobby van Jaarsveld. Die Kyknet-realiteitsprogram het ‘n nuwe standaard in Afrikaanse realiteitsprogramme gebring en met ‘n talent soos Liza s’n, het sy in die proses baie harte gesteel. Jy het my Gevind is nie net die titel van haar nuwe CD nie, maar beteken vir Liza baie meer as dit... Dis ‘n nuwe begin, ‘n nuwe era in haar loopbaan, en Suid Afrika het haar gevind. Liza, wat onlangs getroud is met Ricus Nel, het oornag ‘n huishoudelike naam geword en skouers begin skuur met ons land se top mede-kunstenaars en vermaaklikheidspersoonlikede “Ek kan dit nie glo nie, maar my hart loop oor van vreugde.” Liza Brönner het oor die afgelope vyf jaar met elke vertoning in mense se harte ingeklim en met haar sagte, liefdevolle persoonlikheid het sy bewys dat geen geld of roem haar passie vir musiek kan steel nie. Liza Brönner is hier om te bly, lank lewe talentvolle kunstenaars.

RINA HUGO is telkens in haar loopbaan as een van die veelsydigste sangeresse beskryf. Sy blink uit in feitlik alle genres wat deur ’n solis bemeester kan word: opera, oratorium, die kunslied, operette, musiekblyspele en ligte musiek. Rina, ’n klassiekopgeleide sangeres, het haar B.Mus. graad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit (deesdae Noord-Wes Universiteit) en later haar meestersgraad in sang aan die New England Conservatory of Music in Boston in die V.S.A behaal. Sy was ook daarna lektrise in sang aan die Noord- Wes Universiteit. In haar suksesvolle loopbaan is haar plate en CD's talle kere met goue en platinum status bekroon, het sy talle eerbewyse ontvang en belangrike musiekpryse gewen.

“Ons het die eerste Kersfees Skouspel in 2006 aangebied en is vir ons elke jaar ‘n hoogtepunt op die kalender”, sê vervaardiger Frans Swart. “Dit was ‘n geweldige sukses en kaartjies is binne enkele weke uitverkoop. Die jaar se uitvoering gaan beslis groter en meer skouspelagtig wees.”

Volgens die organiseerders is dit maar min dat hierdie kersfeesuitvoerings op so ‘n groot skaal aangebied word, en is Carnival City se Big Top Arena die ideale venue vir so ‘n produksie. “Gehore kan hulle gereed maak vir ‘n treffer skouspel”, sê Swart.

Bespreek vir die Kersfees Skouspel 2013 by Computicket. Besoek gerus www.lefra.com vir verdere inligting of skakel 011 815 3000.


Kersfees Skouspel terug by Carnival City op 14 Desember!
Carnival City – Big Top Arena
Met Alwyn Oberholster | Arina De Witt | Henrico Coetzer | Heuning | Jannie Moolman | Jay du Plessis | Kobus Muller | Liza Brönner | Rina Hugo
Musikale Regisseur: Jaconell Mouton | Regisseur: Frans Swart
Saterdag, 14 Desember om 20:00
Besprekings by Computicket 0861 915 8000 of www.computicket.com
Groepe meer as 10 - Afslagpryse: Skakel Monica Booysen by 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com
Meer inligting by www.lefra.com


Uitgereik deur Lefra Produksies
Tel: 011 815 3000 | Faks: 011 362 5233
E-Pos: admin@lefra.com  | Web: www.lefra.com
Medianavrae / Onderhoude: Charl Senekal | 083 471 0037
 
Related Venue:
Carnival City - Big Top Arena, Johannesburg Gauteng South Africa










Comments

blog comments powered by Disqus


Previous


















Find us on Facebook Follow us on Twitter