Login Here

Artslink.co.za News  

Aardklopgangers loop 'n hoŽ Risiko

Dominique Fourie
09/18/2012 14:00:28


Artslink.co.za News
Risiko is ‘n sielkundige riller - geskryf en geregisseer deur Schalk Schoombie -‘n sexy dodedans tussen liefde en wraak … die Doodsengel en sy minnares.

Ná ‘n opwindende speelvak van Risiko vanjaar in Julie op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad gaan gehore by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom eersdaags ook die kans kry om te sien waaroor die bohaai is.

“Die jongste Afrikaanse stuk van die gevierde dramaturg, regisseur, joernalis en akteur ontgin die dieptes en breedtes van menslike taboe terwyl dit die rowe genadeloos van wonde wat lankal sweer, afruk,” skryf die Sunday Times-resensent Christine Kennedy in die Grahamstadfeeskoerant Cue. “En Schoombie, beroemd vir sy vermoë om met woorde te toor, slaan oorwegend die boerpot met hierdie elegant geskrewe tweemanstuk.”

Imelda (Dominique Fourie) het skynbaar alles: ryk man, vinnige motor, groot huis. Wanneer sy die geheimsinnige risiko-ontleder Johan (David Konrad) ontmoet, begin ‘n plan posvat. Imelda wil afreken met haar man en Johan bied “finale oplossings” vir huishoudelike probleempies.

Risiko is ‘n sielkundige riller met ‘n angel in die stert geskryf en geregisseer deur Schalk Schoombie (Samoerai); ‘n sexy dodedans tussen liefde en wraak, pyn en plesier, die Doodsengel en sy minnares. In Julie vanjaar was gehore vasgenael tydens die Grahamstad Kunstefees.

Die resensent Christina Kennedy was vol lof: “Sommige fetisjiste sal jou vertel daar’s ‘n prikkelende fyn lyn tussen plesier en pyn, tussen beheer en onderdanigheid, tussen die laaste snak na asem en die eerste fladdering van die dood. En as jy onherstelbaar gebroke siele by die mengsel voeg, word die risiko verhoog en die waagstuk selfs groter,” skryf sy verder.

“Welkom in die wêreld van Risiko, Schalk Schoombie se plofbare nuwe psigo-seksuele nagriller. En dis regtig donker – dit ontgin die ontoeganklike plekke in die diepste hoeke van die psige waar geheime wegkruip.

“Dis ‘n blitssnelle stuk waarin die twee protagoniste mekaar konfronteer in ‘n seksueel-gelade tango van dood en verraad. In ‘n sekere sin is dit ‘n klassieke speurverhaal gekruis met neo-noir – gedenk Frank Miller se grafiese roman en rolprent Sin City – met ‘n misterieuse en verleidelike kettingrokende dame (dalk selfs ‘n femme fatale), ‘n enigmatiese huurmoordenaar met ‘n donker verlede, versny met ‘n vuis vol geheime, leuens en pistole.

“Besonder boeiend is die sluimerende seksuele spanning wat uit die staanspoor tussen kliënt en privaatspeurder blyk... Albei word verenig in hul aptyt vir gevaar: dit vuur hulle aan. Net sodra die toneel vir die volmaakte misdaad opgestel is, begin die speelveld skielik verander, die sandduine skuif, en die kinkels en wendings volg blitsig opmekaar.”

Dis nie ‘n teaterervaring vir fyngevoeliges nie. Kennedy waarsku: “Wat ‘n klimaks! En ek bedoel dit in elke denkbare sin van die woord. Jy sal sien waarom dit ‘n 18 ouderdomsperk vir seksuele en gewelddadige inhoud dra, want die produksie konfronteer taboes kaalkop en skram nie weg van skokwaarde nie, maar dis nie bedoel om uit te buit nie.

“Dit gesê, Risiko is nie vir perverte of loervinke nie; dis ‘n gedronge, makabere en diep ontstellende drama oor twee verwondes wat op die afgrond van lewe en hel wankel, en hoe hulle kies om hul onderskeie werklikhede te bestuur en manipuleer.”

Die drama, wat 70 minute duur, word aangebied in die Boys High-skoolsaal op die volgende dae en tye: 2 Okt. – 13:00, 3 Okt. – 20:00, 4 Okt. – 9:30, 5 Okt. – 16:30, 6 Okt. – 20:00. Kaartjies kos R60. Bespreek by Computicket – www.cloveraardklop.co.za

Sien ook trailer op You Tube link - www.youtube.com/watch?v=AsIxS3h17xY


Artslink.co.za Account:
Dominique Fourie
dominique.actor@gmail.com
082 780 3577
 
Related Event:
Clover Aardklop Nasionale Kunstefees
Dates: Monday, 6th October 2014 - Saturday, 11th October 2014




Comments

blog comments powered by Disqus


Previous


















Find us on Facebook Follow us on Twitter