Login Here

Artslink.co.za News  

My Vrou Se Man Se Vrou by die Innibos Kunstefees

Lefra Productions
06/22/2012 09:32:09


Artslink.co.za News
Kom skaterlag met Tobie en Hannes in “My Vrou Se Man Se Vrou” by die Innibos Kunstefees van 26 tot 30 Junie 2012.

Reeds totaal uitverkoop by Innibos – twee ekstra vertonings geskeduleer!

Lefra Produksies se weghol-treffer, My Vrou se Man se Vrou met Tobie Cronjè en Hannes “Grotman” Muller, toer vanjaar regoor die land en besoek die Innibos Kunstefees van 26 tot 30 Junie. Alle geskeduleerde vertonings by INNIBOS is reeds uitverkoop. Goeie nuus is egter dat Lefra en INNIBOS besluit het om twee ekstra vertonings te skeduleer, naamlik op Donderdag, 28 Junie om 14:00 en op Vrydagaand, 29 Junie om 19:00. My Vrou se Man se Vrou speel by die Laeveld Laerskool in Nelspruit volgens die volgende program: Dins 26 Jun (18:00), Woens 27 Jun (11:00), Don 28 Jun (14:00 en 19:00), Vry 29 Jun (10:00 en 19:00) en Sat 30 Jun (14:00). Besprekings kan by Computicket gedoen word by 0861 915 8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry oudergewoonte ’n lekker afslag – skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com. Gesels ook met ons oor gasvryheidspakette. Vir meer inligting, besoek ook www.lefra.com of www.myvrou.co.za. My Vrou se Man se Vrou speel daarna by Emperors Palace van 4 Julie tot 12 Augustus 2012.

Ray Cooney is die meester van die klug. Sy Run for your Wife speel al langer as 25 jaar in Londen se West End en Peet van Rensburg het ’n wonderlike Afrikaanse vertaling gedoen in My Vrou se Man se Vrou. Die twee hoofrolle word deur Hannes Muller (John Smith) en Tobie Cronjè (Stanley Gardner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs. Voeg daarby name soos Lelia Etsebeth (Mary Smith), Heidi Mollentze (Barbara Smith), Hannes Brümmer (Joernalis/Bobby Franklyn), Duncan Johnson (Speursersant Porterhouse) en Wynand van Vollenstee (Speursersant Throughton), en jy het ’n trefferproduksie op hande. Die produksie het onlangs uitverkoop op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Tobie Cronjè is benoem vir ‘n Kanna-toekenning as Beste Akteur vir sy rol as Stanley Gardener. Daarna het uitverkoopte vertonings gevolg by die Sand du Plessis Teater in Bloemfontein en die Staatsteater in Pretoria.

Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrou is John Smith, ’n Londense taxibestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon ... en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar. Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n verskoning om sy dubbele lewe weg te steek. Maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom! En om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik!

Frans Swart, regisseur en vervaardiger van My Vrou se Man se Vrou, sê dis wonderlik om weer by die Innibos Kunstefees te speel. “Innibos het vir my wonderlike herrinneringe en dit voel werklik asof ons huis-toe kom. My Vrou se Man se Vrou is ‘n groot produksie met ‘n massiewe stel en dis werklik vir ons ‘n vooreeg om so groot produksie ook kunstefeeste toe te neem.”


Uitgereik deur Lefra Produksies
Medianavrae/kompetisies/foto’s: Charl Senekal 011 815 3000 of charl@lefra.com
Onderhoude: Frans Swart 011 815 3000 of frans@lefra.com
 
Related Event:
Innibos Kunstefees
Dates: Wednesday, 27th June 2012 - Saturday, 30th June 2012










Comments

blog comments powered by Disqus


Previous


















Find us on Facebook Follow us on Twitter