Login Here

Artslink.co.za News  

My Vrou se Man se Vrou open by ABSA KKNK

Lefra Productions
03/26/2012 08:35:30


Artslink.co.za News
Peet van Rensburg se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney se weghol-treffer, My Vrou se Man se Vrou, toer vanjaar regoor die land.

Peet van Rensburg se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney se weghol-treffer, My Vrou se Man se Vrou met Tobie Cronjè en Hannes “Grotman” Muller, toer vanjaar regoor die land met speelvakke in Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, die ABSA KKNK en Gauteng se Oos-Rand.

Hierdie heerlike klug open by vanjaar se ABSA KKNK en speel by die Weermagsaal op 31 Maart om 20:00; 1 April om 10:00 en 20:00 en 2 April om 10:00 en 21:30. Besprekings kan by Computicket gedoen word by 0861 915 8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry oudergewoonte ’n lekker afslag – skakel gerus vir Zena by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com. Gesels ook met haar oor gasvryheidspakette. Vir meer inligting, besoek ook www.lefra.com of www.myvrou.co.za

Ray Cooney is ’n meester van die klug. Sy Run for your Wife speel al langer as 25 jaar in Londen se West End en Peet van Rensburg het ’n wonderlike Afrikaanse vertaling gedoen in My Vrou se Man se Vrou. Die twee hoofrolle word deur Hannes Muller (John Smith) en Tobie Cronjè (Stanley Gardner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs. Voeg daarby name soos Lelia Etsebeth (Mary Smith), Heidi Mollentze (Barbara Smith), Hannes Brümmer (Joernalis/Bobby Franklyn), Duncan Johnson (Speursersant Porterhouse) en Wynand van Vollenstee (Speursersant Throughton), en jy het ’n trefferproduksie op hande.

Die toerprogram lyk soos volg:
- SANW-ouditorium, ABSA KKNK, Oudtshoorn | 31 Maart tot 2 April 2012
- Sand du Plessis-teater, Bloemfontein | 30 April tot 12 Mei 2012
- Die Staatsteater Drama, Pretoria | 28 Mei tot 10 Junie 2012
- Marcellus-teater, Emperor’s Palace, Kemptonpark | 13 Augustus tot 16 September 2012
- KunsteKaap-teater, Kaapstad | 25 September tot 5 Oktober 2012

Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die langs-lopende klug op Londen se West End en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat. Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrou is John Smith, ’n Londense taxibestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon ... en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar. Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n verskoning om sy dubbele lewe weg te steek. Maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom! En om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik!

Tobie Cronjè is een van Suid-Afrika se mees geliefde akteurs.Sy loopbaan het in 1972 begin by die destydse TRUK, waar hy van klassieke rolle en Shakespeare tot komedie, klugte en dramas vertolk het.Met die aanvang van televisie in Suid-Afrika het hy ’n huishoudelike naam geword na sy verskyning in Manie van Rensburg se Willem. Sy luisteryke loopbaan sedertdien sluit die verhoog, televisie en rolprente in.Sy mees onlangse rolle is die van Kallie Koster in KykNet se Binneland en natuurlik een van Aspoestertjie se lelike susters in die Joburg Theatre se 2011 pantomime Cinderella.Hannes Muller is beter bekend as Die Grotman in Lefra Produksies se bekroonde Groet die Grotman, wat alle plaaslike Afrikaanse teaterrekords laat spat het.Dié oud-PUK student het, soos Tobie, ook by ’n kunsteraad begin toe hy in 1984 by SWARUK aangesluit het.Behalwe sy verhoogwerk, is Hannes natuurlik ook ’n bekende gesig op die kleinskerm.

Duncan Johnson is al meer as 25 jaar besig met vryskutwerk. Hy’t ’n 4-jaar B.Dram graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, met spesialisasie in Toneel. In sy finale jaar het hy die Fleur du Cap-toekening vir Belowendste Student in die Wes-Kaap ontvang. Daarna is hy met ’n beurs van die Italiaanse Ambassade na die Universiteit van Bologna in Italië vir ’n paar maande. By sy terugkeer na SA het hy in verskeie verhoogproduksies opgetree, maar hy sal veral onthou word as kontinuïteitsaanbieder vir M-Net, aanbieder en nuusleser vir CNW TV en veldaanbieder vir Pasella. As akteur was hy ook te siene in Sewende Laan, Egoli en Intersexions, om maar ’n paar te noem.

Hannes Brümmer is al dikwels gevra of hy hiperaktief is, maar hy het nog nooit lank genoeg stilgesit om uit te vind nie! Hy is sedert 2005 ’n lid van Joe Parker se Improv Express, gevolg deur die Starship Improvise. Die toepassing van sy Drama-graad, wat hy aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het ’n verskeidenheid televisierolle in onder andere Een Skoenlapper, Amalia, Villa Rosa, Binnelanders, ’n aantal televisie-advertensies en die rolprent Skin. Op die verhoog was hy te sien in Full Circle, vier klugte en Paul Slabolepszy se Mooi Street Moves. Hannes was ook as skrywer en akteur betrokke by Blikskottel vir KykNet en die SAUK se SAFTA-genomineerde Kompleks.

Heidi Mollentze was oorspronklik van plan om radiografie te studeer – sy het immers nie in matriek deur Skeinat en Wiskunde geswoeg om drama te gaan swot nie! Maar die ompad deur die dramadepartement het effe lank uitgerek … ’n volle 20 jaar, om presies te wees! Haar vorige verskynings in klugte het haar laat besef dat dissipline die enigste manier is om ’n ‘gag’ te laat slaag. Sy is ’n veelsydige aktrise, met verhoogrolle in musiekblyspele soos Buddy Holly, The King and I en The Little Shop of Horrors, en dramas soos Liz Meiring se Vlerkdans, Breek en Skilpoppe, asook televisierolle in sepies soos Villa Rosa, Generations en Egoli, en reekse soos Haak en Steek (vir Casper de Vries) en Dit wat Stom is (Franz Marx).

Lelia Etsebeth is dalk beter bekend vir haar rol as Liezl in Bakgat 1 & 2, maar het ’n hele aantal ander rolle op haar kerfstok. Televisierolle sluit in Getroud met Rugby, Last Say on Sunday, Erfsondes II; III en rolprente soos Superhelde, Bloedspoor en ‘n Saak van Geloof. Sy is ook verhoogaktrise en stemkunstenaar – RSG-luisteraars sal haar stem herken uit die radio-sepie Susters en Skandes. Sy het in 2011 haar Meestersgraad aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf en is tans besig met haar Doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria.

Fliekgangers sal Wynand van Vollenstee onthou as Kallie in die rolprent Karate Kallie, Bennie in Platteland en die braaivleisman in Superhelde. Televisisiekykers sal hom herken as Erfsondes se Jean-Pierre, Villa Rosa se Sakkie en ook vir sy rol in Getroud met Rugby. Op die verhoog was hy te sien as Barta in die produksie Fiela se Ander Kind en as Kleinboet in Ons vir Jou. Dié veelsydige akteur het sy Nasionale Drama Diploma in 2007 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf, waar hy ook aangewys is as Beste Akteur van die Jaar.

Frans Swart is die regisseur en vervaardiger vir My Vrou se Man se Vrou. Frans is die hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies en is baie opgewonde oor die produksie. “Ek is werklik opgewonde oor die ongelooflike rolverdeling – almal mense met uitstekende komiese talente. My Vrou se Man se Vrou is natuurlik een van daardie klugte wat oor al die elemente beskik om mense aan die lag te kry en aan die lag te hou. Daardie “laugh per minute”. En dis presies wat ons met My Vrou wil doen. Mense moet net kom lag en ontspan oor die manewales van John Smith en sy twee vrouens. Die wetenskaplikes sê mos daar is niks wat ’n mens beter laat ontspan as lag nie. En daarom is dit vir Lefra Produksies so ’n eer om hierdie produksie op te voer. Mense wil nie meer wroeg nie – daarvoor sorg ons politiek beslis baie goed – ons mense wil lag. En dis juis wat My Vrou se Man se Vrou gaan bring.”

Swart voeg ook by dat dit nog altyd vir Lefra Produksies belangrik is om met die produksies te toer. “Alhoewel dit uit ’n logistieke oogpunt ’n nagmerrie is om met so ’n groot rolverdeling en stel te toer, gaan ons beslis die pad die land vol vat en dit moontlik maak vir die hele land om die produksie te sien.”

Bespreek jou kaartjies vir My Vrou se Man se Vrou nou by Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com. Vir groepbesprekings en gasvryheidspakkette, skakel Zena Teixeira by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com


My Vrou se Man se Vrou open by ABSA KKNK

Deur Ray Cooney
Vertaling Peet van Rensburg
Regisseur en Vervaardiger Frans Swart
Met Hannes Muller en Tobie Cronjè, asook Duncan Johnson, Hannes Brümmer, Heidi Mollentze, Lelia Etsebeth en Wynand van Vollenstee
Ontwerp Johan Badenhorst
SANW-Ouditorium, ABSA KKNK, Oudtshoorn | 31 Maart Tot 2 April 2012
Sand du Plessis-Teater, Bloemfontein | 30 April Tot 12 Mei 2012
Die Staatsteater Drama, Pretoria | 28 Mei Tot 10 Junie 2012
Marcellus-Teater, Emperor’s Palace, Kemptonpark | 13 Augustus Tot 16 September 2012
Kunstekaap-Teater, Kaapstad | 25 September Tot 5 Oktober 2012
Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com
Groepe van meer as 10 en gasvryheidspakkette: Zena Teixeira by 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com


UITGEREIK DEUR: Lefra Produksies
ONDERHOUDE: Frans Swart by 011 815 3000 of info@lefra.com
MEDIANAVRAE: Charl Senekal by 011 815 3000 of marketing@lefra.com


Artslink.co.za Account:
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
 
Related Event:
Absa KKNK - Klein Karoo Nasionale Kunstefees
Dates: Friday, 29th March 2013 - Saturday, 6th April 2013

Comments

blog comments powered by Disqus


Previous


















Find us on Facebook Follow us on Twitter