Login Here

Artslink.co.za News  

Op Reis Met My Koning met 15 kunstenaars

Lefra Productions
07/18/2010 10:56:04


Artslink.co.za News
Verskeie geestelike albums het al die lig gesien en musiekliefhebbers kan kies en keur uit ‘n verskeidenheid op die rak.

Maar die veelsydigheid van die Op Reis Met My Koning-albums en DVD's is uniek in die sin dat daar vir elke smaak voorsiening gemaak word: van die jongste luisteraar tot die ouer garde. En vir die eerste keer word die uniekheid van hierdie reeks gevier in die eerste Op Reis Met My Koning -konsert, wat op Saterdag 31 Julie om 19:00 in Carnival City se Big Top Arena aangebied.

Vyftien kunstenaars on een verhoog, met Alan Ladd, Arina de Witt, Benice, Danie Botha, Du Preez Stoltz, Freda Francis, Jan de Wet, Leon Ferreira, Piet Smit, Prophet, Ronèll Erasmus, Shimmer.

Frans Swart, Vervaardiger van die Op Reis Met My Koning -konsert sê dat dit vir hom ‘n besondere eer is om deel van die produksie te wees. "Ons het werklik van die mees suksesvolle gospel sangers op die konsert en ek is seker dit gaan ‘n geestelike sowel as kreatiewe ervaring wees. Elke kunstenaar bring sy besondere talent en boodskap na die produksie en ek is werklik opgewonde oor die uiteindelike konsert, wat ‘n kunstenaar vir elke smaak sal hê." Swart sê ook dat Op Reis Met My Koning baie op die suksesvolle basis van sy Afrikaanse Musiekfees-konserte aangebied sal word, waar daar heelwat wisselwerking tussen die kunstenaar is met duette en trios. "So, mense wat al by die Afrikaanse Musiekfees was, sal beslis ook Op Reis Met My Koning terdeë geniet! Bespreek vinnig om teleurstelling te verhoed." Swart het ook genoem dat die produksie veral vir kerke en skole beskikbaar is om ekstra fondse te werf. Vir meer inligting hieroor, kan Charl Senekal geskakel word by 011 815 3000 of belangstellendes kan e-pos aan charl@lefraproductions.com

Alan Ladd is in 1966 in Lusaka, Zambië, gebore. Saam met sy 12 broers en susters, onder wie die legendariese sanger, Kupido, emigreer die Wessels-gesin in 1976 na Suid-Afrika. Tien jaar later neem Louw sy eerste "seven single" op met een van sy eie komposisies, Daddy, daarop. In die jare wat volg behaal hy groot sukses as sanger/liedjieskrywer, en sy laaste twee albums is in 2006 vrygestel. Die eerste getiteld The Country Gospel CD, bereik platinumstatus binne twee maande met verkope van meer as 45,000 kopieë. In 'n onlangse onderhoud is Alan gevra wat die wonderlikste ervaring in sy lewe as Christen is, en het hy geantwoord: "Die blote feit dat jy kan opstaan in die oggend - kan sien, kan hoor, kan lag, asemhaal - is dit nie reeds die wonderlikste ervaring nie? Die ondeurgrondelike wete dat te midde van my tekortkominge, ek uitverkore is!"

Alhoewel Arina de Witt reeds op vyfjarige ouderdom begin sing het, was haar vriend Jan Spies, die gevierde storieverteller en stigtersredakteur van die Namibiese koerant Die Republikein, eintlik die een wat haar "wakker geskud het" om met 'n sangloopbaan te begin. Arina het Jan Spies leer ken toe hulle saam vir die Die Republikein gewerk het. Spies het die lirieke vir De Witt se eerste groot treffer, Rietjiesfluit, geskryf en ook vier liedjies op haar eerste album geskryf. "Ek is bly dat hy daardie kant van my kon wakker skud," sê Arina. Haar nuutste album, Timeless, is vroeër vanjaar vrygestel en is volgens Arina ‘n keurspel van tydlose treffers oor die jare heen. Sy is een van Suid-Afrika se talentvolste en veelsydigste kunstenaars, en plaas God in totale beheer van haar lewe.

Benice is ‘n gospelsangeres wat al reg oor die land bedien het . Sy het twee cd's op die rakke Hou My Trou en U Is Liefde. Benice het ‘n passie vir mense en glo dat haar musiek ‘n verskil maak in baie mense se lewens. Benice is al nege jaar getroud met Sias Borman wat ook haar liedjies skryf wat sy al reeds op geneem het en wat groot treffers is. Sy is ‘n ma van twee dogters, Kayla en Denike. Benice is ook ‘n finalis vir Mev Verenigde Nasies SA 2010 en die finale sal die 17de September plaas vind. Sy was oor die jare betrokke by verskeie welsynsorganisasies. Haar CD's is vars en gepas vir ‘n wye spektrum van luisteraars. Daar is liedjies vir oud en jonk, en die gehoor kan hulle verlustig in die musiek. Benice is besig om in die gospel kringe haar merk te maak as een van ons land se beste kunstenaars en Suid-Afrika sal nog baie van hoor.

In 1988 behaal Danie Botha die tweede plek in die SAUK se program Debuut met sy eie komposisie Wie kan dit verstaan. Kort daarna verskyn sy musiekvideo's van Wie kan dit verstaan en Wenners op televisie en word Danie landwyd uitgenooi om sy musiek met die mense te kom deel. Die skrif was aan die muur: binne die daaropvolgende week bring hy 'n orkes op die been, bedank sy werk en begin die land deurkruis met konserte. Sy eerste album, Wenners, behaal binne drie weke na vrystelling goue status! Vandag, meer as twintig jaar later, het Danie reeds vier sekulêre albums, vyftien geestelike albums en ses duet-CD's vrygestel. Danie beskou sy sangloopbaan as 'n groot voorreg en is dankbaar dat die land hom die geleentheid gee om dit met hulle te deel. "Saam", sê Danie, "kan ons mekaar help om oorwinning na te streef, ten spyte van die wipplank-oomblikke waaruit die lewe bestaan."

Sang en musiek was altyd deel van Du Preez Stoltz se bestaan, en met sy passie en liefde daarvoor was dit byna onafwendbaar dat hy ‘n beroep in die rigting sou volg. Hy het vir Jannie Moolman vervang en is ingesluit in Suid-Afrika se Eie Drie Tenore saam met Phillip Kotze en Chris Coetzer. Maar DU Preez het altyd geweet hy moet vir die Here werk en die dag toe sy platemaatskappy vir hom ‘n solo-album aanbied, het hy geweet dit moet ‘n geestelike album wees, en is die album, Hy Leef in My, onlang vrygestel. Sy begeerte om vir die Here te werk is gegrond op 'n lang geestelike worsteling rakende die betekenis van lewe - maar lewe in oorvloed soos God dit wil. "Die wereld het 'n stel reëls en riglyne kom neerlê waarvoor die meeste van ons pens en pootjies geval het. En skielik gebruik ons hierdie riglyne om te bepaal of ons suksesvol is en voluit lewe", sê Du Preez. "Voordat jy jou oë kan uitveë is God se reëls en riglyne vir 'n vol lewe op die agtergrond, hoekom glo ons skielik die wêreld meer as vir God?"

Freda Francis is een van ons land se beste geestelike sangeresse en liedjieksrywers. Haar professionele loopbaan het begin in 1996 as sekulêre sangeres waar sy saam met die land se voorste kunstenaars verhoë gedeel het. In 2003 het haar passie egter verander en het Jesaja 61:3 haar bediening geword. Haar eertse geestelike CD Nader al Nader het die lig gesien en het gou platinumstatus bereik. Daarna volg Span jou Seile, Waardig is die Heer, Albastefles en die nuutste CD, Waag om te Glo! wat almal goue status bereik het . Sy het ook ‘n DVD uitgegee met ‘n kombinasie van die eerste vier CD's Loof Hom met 21 Geestelike Treffers waarop sy haar getuienis ook gee. Haar opgewondenheid steek almal aan en jy kan nie anders as om meer positief na die lewe te kyk nie.

Jan de Wet het sy eerste album reeds in 1967 opgeneem, en het sedertien meer as 60 albums vrygestel. In 1983 het Jan voltyds met sy musikale bediening begin en neem die roeping hom nie net die land vol nie, maar ook die buiteland. Jan is onlangs aangestel as ‘n welwillendheidsambassadeur vir Kindersorg Suid-Afrika. "Ek het die voorreg om al langer as ‘n dekade by kinderbediening betrokke te wees", sê Jan. "Ek gebruik musiek as medium en dit gun my die geleentheid om vir kinders in nood hoop te bied. Kinders moet van die Verlosser vertel word wat gesê het: Laat die kindfertjies na My toe kom." Jan word beskou as 'n pionier in die plaaslike geestelike musiekindustrie. Naas sy vele toekennings en talle topverkoper albums, dien hy ook as die geestelike vader van baie van Suid-Afrika se huidige Christelike kunstenaars.

Leon Ferreira is ‘n bekende gesig op die Suid-Afrikaanse televisie en verhoog. Hy het die inspirerende program Vonkprop op KykNet aangebied en was onlang te sien as Michaelle Stiffel in die musiekspel Houtkruis - Die Musical. Maar Leon se musiekloopbaan het al heelwat vroeër begin - sy eerste album Sê My, Jy Lewe word in 1992 vrygestel. Hy is ‘n veelsydige kunstenaar en verskeie albums en produksie vloei uit sy pen. Leon is ook betrokke by die groep Imagine, saam met Raymond Cilliers, Freddie Wessels en Mervis van der Merwe. Hulle eerste CD en DVD, Muzic - Live is in 2005 vrygestel en word in 2007 opgevolg met The Event. Leon word op ‘n baie unieke manier gebruik met die talente wat God vir hom gegee het en met dit toer hy die hele land vol. Sy mees onlangse vrystelling was DagReis, wat in September 2008 vrygestel was.

Alhoewel Piet Smit vir jare die begeerte en roeping gehad het om voltyds te sing, het hy vir lank net oor naweke opgetree. In Mei 1994 het die Here vir hom vrede gegee dat hy maar vir Hom kan gaan werk, en Hy het dit ook duidelik uit Sy Woord bevestig. Hy het toe sy besigheid summier toegemaak en staan sederdien voltyds in 'n sangbediening en lewe totaal in geloof. Die boodskap van sy bediening is om te vertel van 'n intieme, persoonlike verhouding wat God met ons verlang. Piet sê: "Dit help ook nie om net die teorie hiervan te preek nie - ons moet ons geloof prakties uitleef en ook die vrug dra wat by bekering pas. En, alhoewel ek baie val, is dit waarna ek streef. Ek wil ophou preke lewer en begin om die preke te lewe!" Tot dusver het ses van sy albums goue status verwerf. Sy produksie Heer U maak my nuut het geskiedenis gemaak toe dit platinum status bereik het. Dit was die eerste Christelike album deur 'n voltydse Afrikaanse Christelike kunstenaar in Suid Afrika wat daardie eer verwerf het.

Koos van der Merwe en Theo Geyser is vir die afgelope 24 jaar die twee lede van die sanggroep, Prophet. Prophet is reeds sewe keer bekroon met ATKV Liertoekennings is benoem vir die South African Music Awards. Koos is sedert 1983 in die bediening en is tans leraar van Eden Gemeente in George en Theo is leraar in Stellenbosch Gemeente. Theo het ook 'n jaar terug 'n gemeente geplant in Groenpunt en 'n maand gelede in Oranjezicht wat as InVia (oppad) bekend staan. Beide is lief vir die akademie en het doktorsgrade. Prophet tree deur hulle musiek toe tot die debat met mense wat nie maklik tevrede gestel word deur onuitgedaagde en ge-eikte clichés van die lewe en die geloof nie. Hulle musiek dek die volle spektrum van menslike belewenis en pas nie gemaklik in in die kategorie "gospel-musiek" nie. Hulle optredes neem die vorm aan van 'n tweegesprek tussen Koos en Theo en die gehoor word byna terloops ook aangespreek en dikwels geskok met die reguit omgaan met vrae wat in religieuse kringe soms gekamoefleer word met teologiese eeufimismes.

Die vrolike gospelsangeres Ronéll Erasmus het geen bekendstelling nodig nie. Haar elf geestelike albums het al die harte van soveel aanhangers geroer en deur haar musiek die tuistes van duisende met ‘n passie vir die Here gevul. Sy is ‘n gesiene vrou in die musiekwêreld, maar sy het nes elke hoopvolle musikant klein begin. In 1992 het Ronéll se deurbraak in die vorm van die groep, Touch of Class saam met die gewilde kitaarspeler, Deon van der Merwe verskyn. Die duo se treffersnit, Ek en my meisie het opslae gemaak en die groep op die Suid-Afrikaanse musiekkaart geplaas. Na jare is die twee sangers steeds goeie vriende waar hulle gesamentlik die musiekmaatskappy, Fantasia Musiek bestuur. Ondanks die feit dat sy as ‘n musiek-guru geag kan word en die unieke talent van perfekte gehoor("perfect pitch") bemeester het, is die blou-oog sangeres se voete stewig op die grond gevestig.

Hulle is jonk, talentvol, beeldskoon en boonop drie susters! Lefra Produksies se nuwe meisies-groep Shimmer kan as een van die mees opwindende toevoegings gesien word wat die Afrikaanse popmusiekmark betree. Shimmer bestaan uit die drie Lind-susters: Chazelle, Marlize en Michelle. Hulle Afrikaanse debuutalbum, met dieselfde titel, Shimmer, is vroeër vanjaar vrygestel en is ‘n gesofistikeerde album waarvan sekere van die musiek en lirieke deur die meisies self neergepen is. Sê Chazelle: "Alhoewel ons debuutvrystelling ‘n sekulêre album is, kom ons uit n Christelike huis waar ons Hom van kleins af leer ken het. Ons was vir die grootste gedeelte van ons skool loopbane in ‘n Christelike skool waar die Bybel die middelpunt van die kurrikulum was". Suster Marelize gaan voort: "As jy jou lewe so na aan God lewe, besef jy dat die lewe sonder God geen betekenis het nie. Ons praat daagliks met Hom, sien Hoe hy daagliks in al ons behoeftes voorsien, maar meer as dit, ons ervaar Sy alles oorheersende onvoorwaarlike wondelike liefde."

Besprekings vir die vertoning het pas geopen by Computicket; skakel hulle by 011 340-8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com
Groepe van meer as 10 persone kry oudergewoonte ‘n lekker afslag deur vir Charl Senekal te skakel by 011 815 3000 of stuur ‘n e-pos aan charl@lefraproductions.com


NOTA AAN REDAKTEURS:
Ons is bereid om kaartjies beskikbaar te stel vir kompetisies. Skakel asb vir Charl Senekal by 011 815 3000 om te reel. Meer hoe resolusie fotos is ook beskikbaar. Laat weet net as julle ekstras benodig.

Uitgereik deur
Lefra Produksies
Medianavrae / Onderhoude:
Frans Swart
011 815 3000

 
















Add your comment
Your name
Your e-mail address

Type in the text in the image above
Subject Line


Previous























Find us on Facebook Follow us on Twitter